Ongeluk eis tiener ná nagwaak vir sy vriend
2011-12-03 10:02
Kaapstad – ’n Hartseer ouerpaar van Bellville het Vrydag, enkele ure nadat hul seun sy laaste asem uitgeblaas het, sy laaste wens vervul deur sy organe vir oorplanting te skenk.
Jacques du Preez sr. het gesê dit is wat sy seun, Jacques (19), wou hê.
Jacques was Donderdag in die vroeë oggendure in ’n motorongeluk betrokke by die Giel Basson- en Rothschild-kruising naby Parow ná die nagwaak vir sy ou skoolvriend, Corné Hale.
Hale is verlede naweek oorlede nadat hy die vorige Donderdagoggend buite die kuierplek Stones in Edwardstraat, Bellville, aangerand is.
Jacques was saam met Rudi Pentz (19) en Christiaan van Wyk (20) op pad huis toe ná die nagwaak toe die ongeluk omstreeks 01:15 gebeur het.
Die masjiene wat Jacques aan die lewe gehou het, is Vrydag omstreeks 09:00 in die Netcare N1 Stad-hospitaal afgeskakel. Sy ouers het gewag vir sy suster, Annuschka du Preez, ’n lugwaardin, om in Suid-Afrika aan te kom.
Pentz, wat die Volkswagen Golf bestuur het, het beheer daaroor verloor en dit het gerol. Hy en Van Wyk is na die Tygerberg-hospitaal gebring.
Jacques het bloeding op die brein gehad en sy longe is erg beskadig.
Sy pa het gesê alles wat hulle kon, is geskenk. “Sy hart, korneas, lewer, niere, sy vel. Dit is net sy longe wat té seergekry het.”
Debbie Pentz, Rudi se ma, het gesê hy is in ’n ernstige, maar stabiele toestand.
Van Wyk sterk goed aan. Sy ma, Zelda van Wyk, het gesê hy het ’n harde stamp op die bors gekry en dat sy longe ’n bietjie seergekry het.
Jacques, Rudi en Christiaan was verlede jaar matrikulante aan die Hoërskool Tygerberg in Parow en Corné vanjaar.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Die Burger