Ongebruikte handboeke glo gestort
2012-09-27 22:45
Johannesburg – Handboeke en leermateriaal wat gebruik word vir ‘n volwasse onderwyskursus is in Modderfontein gestort, het die Demokratiese Alliansie in Gauteng Donderdag gesê.
“Honderde handboeke en ander materiaal vir die volwasse geletterdheid-program, sommige wat nog in bokse toegedraai is, staan in ‘n verlate buite-gebou,” het Mike Moriarty, DA-raadslid van Johannesburg, in ‘n verklaring gesê.
Die handboeke is vir die gebruik in die onderwys-en-opleidingsertifikaat vir volwassenes (Abet).
Moriarty sê die handboeke en ander materiaal is in bokse gevind wat gemerk was vir die departement van basiese onderwys.
Panyaza Lesufi, woordvoerder vir die departement, sê hy was nie bewus van die handboeke nie, maar het erken dat die departement ‘n diensverskaffer in die gebied het.
Hy sê die materiaal is ekstra materiaal wat oorgebly het nadat ‘n kontrak afgehandel is.
“Abet-materiaal wat op hierdie wyse gestort word, is ‘n klap in die gesig van Suid-Afrikaners wat hul hoop en aspirasies op die program plaas,” het Moriarty gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA