Onderwysers sterf oppad na leerder se begrafnis
2010-09-12 16:02
Johannesburg - Twee onderwysers is dood en 'n derde is ernstig beseer toe
hul motor oppad na die begrafnis van 'n leerder deur 'n trok getref is.
Die Pretoriase polisie het gesê die onderwysers se Opel Corsa
is aan die sykant deur 'n perdetrok getref. Die ongeluk het by die KwaMhlanga-Mamelodi
kruising naby Cullinan plaasgevind.
Die 32-jarige onderwyser wat die motor bestuur het en 'n
36-jarige passasier is dood. 'n Ander 36-jarige vrou wat in die motor was, is
in 'n ernstige toestand na die Wilgers hospitaal geneem.
Die 36-jarige trokbestuurder is nie beseer nie.
"Al die vrouens is onderwysers by Hoërskool Lethabong
in die KwaMhlanga gebied," het die polisiewoordvoerder gesê. "Die oorsaak van die ongeluk is nog nie bekend
nie."
- SAPA