Onderwyser vry na moord-komplot
2010-01-26 00:09
Kaapstad – ‘n Onderwyser van Kaapstad is Maandag op borgtog vrygelaat nadat sy verlede week in hegtenis geneem is op ‘n klag van sameswering om die skoolhoof te vermoor.
Nontutuzelo Mbanga (55) is op R2 000 borgtog vrygelaat met haar eerste verskyning in die landdroshof in Kaapstad.
Staatsadvokaat Esna Erasmus het aan die hof gesê dat Mbanga ‘n onderwyseres by ‘n hoërskool in Milnerton is.
Volgens Erasmus was daar geen beswaar teen Mbanga se borgtog nie, solank sy aan twee vereistes voldoen – dat sy elke Woensdag aanmeld by die Milnerton polisiestasie en dat sy deur die hof gewaarsku word om nie kontak met staatsgetuies te maak nie.
Advokaat Joe Weber het gesê dat Mbanga op ‘n kontrak aangestel was om hoër Xhosa by die Sinenjombo hoërskool by die Joe Slovo informele nedersetting te onderrig.
Sy het glo gevra om voltyds by die skool aangestel te word, maar toe dit nie gebeur nie het sy kwaad geword.
Weber het bygevoeg dat die komplot om die hoof te vermoor nooit uitgevoer is nie.
Mbanga het geen vorige aanklagtes of kriminele sake teen haar nie.
Sy sal op 26 Februarie weer in die hof verskyn.
- Sapa