Onderwyser vas oor gesteelde vleis
2009-07-20 13:33
Frankfort, Vrystaat – ‘n Onderwyser het ‘n “lelike skok” gekry toe die polisie vars gesnyde lam in sy huis gevind en hom in hegtenis geneem het.
Sers. Philani Mvuna het gesê die 50-jarige man het glo die vleis by ‘n plaaswerker gekoop wat die skaap gesteel het.
“Die werker het Sondag glo twee skape op die plaas in Frankfort waar hy werk,gesteel. Hy het gewag tot die boer weg is en toe die skape geslag.”
Die onderwyser het toe sy deel van die vleis op die plaas gaan haal.
“Die plaaswerker het nie sy plan goed deurdink nie. Nadat hy van die karkasse ontslae geraak het, het hy vergeet om die bloed agter die vragmotor af te was,” het Mvuna gesê.
Die boer het die bloed gesien en die polisie ontbied. Die plaaswerker is in hegtenis geneem en die polisie van die onderwyser se aandeel in die diefstal vertel .
“Die polisie het toe op die onderwyser se huis toegesak en beslag gelê op die lam indie yskas.”
Die plaaswerker en die onderwyser sal binnekort in die Frankfort-landdroshof op aanklag van diefstal en gesteelde goedere verskyn.
SAPA