Onderwyser vas ná rooftog
2010-03-05 03:35
Johannesburg – ‘n Onderwyser is in hegtenis geneem ná ‘n gewapende rooftog by ‘n supermark in Marble Hall, het polisie in Limpopo Donderdag gesê.
Die onderwyser en ‘n kassier is by die supermark in hegtenis geneem ná die rooftog wat omstreeks 08:30 Woensdag plaasgevind het, het supt. Ronel Otto gesê.
“Ses verdagtes het die supermark binnegegaan en vuurwapens op werkgewers gerig. Hulle het met ‘n groot hoeveelheid geld gevlug,” het sy gesê.
“Kort na die voorval het polisie ‘n kassier wat vir die maatskappy werk in hegtenis geneem. Verdere ondersoeke het gelei tot die inhegtenisname van die onderwyser wat glo die meesterbrein agter die rooftog was,” het sy bygevoeg.
Die polisie het beslag gelê op geld en kruideniersware, wat na bewering met die gesteelde geld gekoop is, na die twee se inhegtenisname.
Hulle sal na verwagting Vrydag in die landdroshof in Marble Hall verskyn.
Die ander vier verdagtes is nog soek.
- Sapa