Onderwyser slaan glo kinders met ketting
2010-11-16 06:20
Volksblad
Die Gekombineerde Skool Pellissier op Bethulie is weer in die kollig – dié keer weens ’n onderwyser van dié skool wat na bewering leerlinge met ’n ketting geslaan het toe hy dronk was.
Boonop is tugstappe gedoen teen ’n ander onderwyser wat ontoepaslike selfoonboodskappe vir ’n leerling gestuur het.
Die Vrystaatse departement van onderwys het in ’n verklaring bevestig dat Werner King, wat vir laerskoolkinders by dié skool klas gegee het, op 6 November by die skool se koshuis aan diens was.
Hy was vermoedelik onder die invloed van drank en het van die koshuisinwoners met ’n ketting aangerand.
Die skoolhoof, Russel Sylvester, sê hoewel die kinders nie ernstige beserings opgedoen het nie, is wat King glo gedoen het, onaanvaarbaar.
“Sulke ouens hoort nie in die onderwys nie.”
Luidens die verklaring is die onderwyser deur die skool se beheerliggaam aangestel.
Nadat Sylvester oor die voorval ingelig is, het hy onmiddellik opdrag gegee dat King van die terrein verwyder word. ’n Ander onderwyser het toe sy pligte oorgeneem.
Op 8 November het die skoolhoof King ingelig dat hy kontak met leerlinge moet vermy. Die beheerliggaam het die King tyd gegee om redes aan te voer waarom hy nie geskors moet word nie.
King het dieselfde dag bedank en ’n dissiplinêre verhoor kon nie gehou word nie. Hy wou nie gister kommentaar lewer nie.
Gustav Joubert, ’n hoërskoolonderwyser, is vroeër in ’n tugverhoor daaraan skuldig bevind dat hy ontoepaslike boodskappe na ’n leerling se selfoon gestuur het.
Luidens die verklaring het hy die leerling sy “liefdesengel” genoem. Hy het vir haar gesê dat hy van haar droom. Joubert het haar aangemoedig om van hom ook te droom en lekker te slaap. Hy het in boodskappe ook gesê hy kan nie ophou om aan haar te dink nie.
Die boodskappe is tussen 29 November 2009 en 15 Februarie gestuur.
In die verhoor is bevind dat die boodskappe nie seksueel van aard was nie.
Hy is ’n boete opgelê en werk steeds by die skool.
Joubert is nie geskors nie, maar skriftelik deur die skoolontwikkelingsbestuurder, mnr. H.G. Booysen, opdrag gegee om nie enige leerling in die afwesigheid van ander leerlinge te ontmoet nie.
Hy is ook van sy pligte as ’n voog-onderwyser gestroop. Dié stelsel behels dat elke matriekleerling ’n voog-onderwyser het wat die kind se akademiese vordering kontroleer en as ’n mentor optree.
Joubert was die voog-onderwyser van die leerling aan wie hy die boodskappe gestuur het. Hy wou nie kommentaar lewer nie.
Die leerlinge in albei gevalle het berading gekry.
Sylvester sê verrigtinge by die skool gaan voort.
- Kapt. Rulene Kühn, polisiewoordvoerder, sê geen klag is by die polisie ingedien nie.
- Volksblad het onlangs berig oor die wrede seksuele aanranding en verkragting van ’n 7-jarige skoolmeisie, na bewering deur twee gr.8-meisies, op Bethulie. Dit het na bewering op 21 Oktober in die meisieskoshuis van die Gekombineerde Skool Pellissier gebeur.
Volg Nuus24 op Twitter
- Volksblad