Onderwyser se lyk in mangat gevind
2010-02-11 12:31
Kaapstad – Die lyk van ‘n onderwyser van Johannesburg is in ‘n mangat in sy kompleks in Norwood gevind.
Polisie het John Scrooby se lyk gevind nadat hulle Woensdagoggend uitgeroep is na sy huis in Orchards, Norwood, het kapt. Phillip Maganedisa gesê.
Hulle het ‘n tand en Scrooby se brille langs die deur van sy huis gevind, sowel as bloed op die vloer.
‘n Bloedspoor het polisie gelei na die mangat waar Scrooby se lyk gevind is. Hy het ook verskeie steekwonde gehad.
“Daar was geen tekens van inbraak by die huis nie, wat beteken dat die slagoffer die deur vrywillig oopgemaak het vir iemand wat hy ken.”
Verdere ondersoek het onthul dat Scrooby 'n Zimbabwiër in sy huis laat bly het.
Die man het glo aan die polisie vertel dat gewapende mans hom forseer het om Scrooby Woensdagoggend met ‘n stomp voorwerp te vermoor.
Tog glo die polisie dat diefstal die motief was, aangesien Scrooby se geld gesteel is.
Die man is op ‘n klag van moord in hegtenis geneem en sal binnekort in die Johannesburgse landdroshof verskyn.
Maganedisa het Scrooby beskryf as ‘n vrygewige man wat altyd diegene in nood gehelp het.
Scrooby was ‘n meganiese tegnologie onderwyser by John Orr Tegniese Hoërskool in Auckland Park.
- Sapa