Onderwyser in hof oor verkragting
2010-02-01 21:15
Durban – ‘n Voormalige onderwyser van KwaZulu-Natal wat homself voorgedoen het as ‘n spirituele-leier en toe ‘n kind in New Castle verkrag het, het ses keer lewenslange tronkstraf in die hof ontvang.
Michael Hlongwa (49), ‘n getroude man en vader van twee dogters, was glo ‘n gesiene persoon in die gemeenskap wat deur vele ouers met hul kinders vertrou is.
Regter Leona Theron het Maandag in die hooggeregshof in Pietermaritzburg gesê dat Hlongwa ‘n ‘monster is wat op jong seuns toegeslaan het’.
Na bewering het Hlongwa verskeie seuns tussen die ouderdom van ses en 12 jaar oud verkrag. Dié misdade het glo tussen Oktober 2008 en Oktober 2009 plaasgevind en was glo vooraf beplan.
Tydens Hlongwa se vorige verskyning in die hof het hy skuldig gepleit op alle aanklagte teen hom en ‘n grafiese verduideliking gegee oor hoe hy die seuns uitgelok het.
– Sapa