Onderwyser by huis doodgeskiet
2012-01-18 20:01
Johannesburg – ‘n Onderwyser is by sy huis in Marapyane, Mpumalanga, deur rowers doodgeskiet, het die polisie Woensdag gesê.
Die 42-jarige man het Dinsdag omstreeks 23:00 die hek by sy huis oopgemaak om by die erf in te ry toe die rowers hom aangeval het, het sers. Hastings Chaane gesê.
“Hulle het die onderwyser van ‘n onbekende hoeveelheid kontant beroof en hom drie keer geskiet,” het hy gesê.
Hy is op die toneel dood verklaar.
Chaane het gesê die rowers het in die onderwyser se Toyota Corolla gevlug.
Die vermoorde man, wie se naam nie bekend gemaak is nie, was ‘n onderwyser by die Seruane Hoërskool in Lefisoane.
‘n Saak van moord en gewapende roof word ondersoek. Die rowers is steeds op vrye voet.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA