Onderwysdept. kap terug oor Limpopo-handboeke
2013-02-11 15:41
Pretoria – Alle skole in Limpopo het handboeke vir die nuwe jaar ontvang, het Panyaza Lesufi, woordvoerder vir die dertement van basiese onderwys, Maandag gesê.
“Daar is geen skool in Limpopo wat nie handboeke ontvang het nie,” het hy aan verslaggewers in Pretoria gesê.
“Iemand wil voordeel trek uit die situasie in Limpopo en probeer maklike politieke punte wen.”
Die DA het verlede week beweer dat sommige skole in die provinsie nie handboeke ontvang het nie.
Die party het ná ‘n opname wat deur van sy beamptes gedoen is, gesê 56 skole het nie al die handboeke ontvang wat hulle nodig het nie.
Volgens Mmusi Maimane, woordvoerder van die DA, is daar nog honderde skole wat nie die regte boeke het nie.
Hy het gesê die party is in besit van ‘n brief van ‘n hoof in Limpopo wat verskoning vra aan ouers omdat die skool nog nie enige handboeke vir sekere kernvakke ontvang het nie.
Lesufi het Maandag gesê: “Ons wil die DA vra om hul verklaring teen die einde van die werksdag Vrydag terug te trek.”
Hy het bygevoeg dat die party om verskoning moet vra dat hy die departement en die integriteit van Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, oneer aandoen.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA