Onderwys in Wes-Kaap geprys
2010-11-30 07:02
Kaapstad - Die Wes-Kaapse departement van onderwys is ingesluit in ’n onlangse studie oor verbeterde onderwysstelsels in 20 lande.
Mckinsey & Company, ’n internasionale bestuurs- en raadgewende maatskappy, het die studie, wat gister bekend gestel is, gedoen.
Die Wes-Kaapse onderwysstelsel is ingesluit vanweë die verbetering in die provinsie se geletterdheids-uitslae vir grade 3 en 6 oor die laaste agt jaar.
“Ons is bly om te sien Mckinsey & Company sien die Wes-Kaapse departement van onderwys as ’n voorbeeld van goeie praktyk,” het Donald Grant, Wes-Kaapse minister van onderwys, in ’n verklaring gesê.
“Ons het nog ’n lang ent om te stap, maar die studie wys ons is op die regte pad. Ons sal die studie sorgvuldig bestudeer en kyk hoe ons ons strategie kan verbeter.”
Die verslag, getiteld “Hoe die wêreld se beste skolestelsels aanhou verbeter”, is daarop gemik om verskeie vrae te beantwoord, soos:)Hoe verbeter ’n skool wat sleg presteer?
* Hoe word ’n skool wat goed presteer uitstekend?
Navorsers van McKinsey het met 200 belanghebbendes onderhoude gevoer en 600 intervensies in 20 lande ontleed.
Die studie het bevind leierskap is belangrik om verbetering te begin en vol te hou. Sommige streke het daarin geslaag om kontinuïteit te behou ondanks verandering in politieke leierskap. Dit sluit Armenië, die Wes-Kaap en Litaue in.
- Die Burger