Onderwys in SA ‘van swakste ter wêreld’
2010-11-15 06:25
Die Burger
Bloemfontein - Die regering se beheptheid met matriek en universiteitsgrade is sleg vir die land se ekonomie, meen die ekonoom Dawie Roodt.
Hy het gesê die regering moet eerder van vooraf beplan indien hy beter resultate van sy duur onderwysstelsel wil verseker.
Hy het voorts gesê die regering bestee die meeste – byna 20% van die totale staatsbesteding – aan onderwys, maar die resultate bly uiters swak.
Hy was die gasspreker by die nasionale algemene jaarvergadering van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas) wat die afgelope naweek hier gehou is.
Volgens hom vaar Suid-Afrika op onderwysgebied selfs swakker as armer lande. “In ’n onlangse peiling oor die uitkoms van onderwys het ons so swak gedoen, hulle moes ’n spesiale afdeling vir ons skep. Ons is van die swakstes in die wêreld.”
Hy het bygevoeg in lande soos Mosambiek moet kinders onder bome onderrig ontvang, maar hulle vaar beter as hul eweknieë in Suid-Afrikaanse klaskamers. Hy meen alles is nie verlore vir die land óf sy onderwysstelsel nie.
“Ek is baie positief oor die land. Onderwys sal net weer as ’n roeping in plaas van net nog ’n werk herbevestig moet word.”
Hy het gesê te veel onderwysers doen dit net vir die salaris. Hy meen daarom is dit belangrik dat die regering se fokus van werkloosheid na werkskepping verskuif. “Ons het sweisers, bouers en werktuigkundiges nodig. Daar is so ’n tekort dat maatskappye begin het om sweisers in te voer.”
Volgens hom is die beroepe wat al hoe skaarser word werkskeppende beroepe.
Opleiding in hierdie beroepe sal ook help keer dat mense wat nie passievol is oor onderwys nie die stelsel betree.
Die regering moet ook begin om leerders en onderwysers “om te koop”. Hy het gesê die een beginsel in ekonomie wat hom al oor en oor bewys het, is dat mense op belonings reageer.
Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger