Onderwys-beleid het misluk, sê kenner
2009-09-17 07:10
Kaapstad - Uitkomsgebaseerde onderwys (UGO) het misluk.
Só het mnr. Graeme Bloch, onderwysontleder van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsbank wat destyds nou betrokke was by die inwerkingstelling van dié beleid, gesê.
Bloch het aan die Kaapse Persklub gesê hy aanvaar medeverantwoordelikheid vir die tekortkominge wat UGO in die Suid-Afrikaanse onderwysstelsel meegebring het.
Hy erken dat ’n land wat UGO wil instel oor die beste infrastruktuur en hulpbronne moet beskik en dat dit onrealisties sou wees om dit in Suid-Afrika te wil laat werk.
“Ons was almal ooroptimisties. Ons het nie besef veranderinge in die onderwysstelsel sou so moeilik en ingewikkeld wees nie,” het hy Dinsdag gesê.
Maar selfs al “verdwyn” uitkomsgebaseerde onderwys môre, sal probleme in die skolestelsel nie eensklaps weggaan nie – deels weens die skreiende ongelykhede wat in ons skolestelsel voortduur.
“Voormalige model C-skole, wat nog merendeels wit is, trek steeds voordeel uit die verlede. Ons kan nie langer bekostig om twee skolestelsels in die land te hê nie. Dit is nie volhoubaar nie.”
Bloch gee toe dat voormalige model C-skole ’n sagte teiken vir die regering is en dat daar geweldig baie druk op dié skole is om hulle oop te stel. Dit is egter steeds terreine van uitnemendheid waar baie van die regering se onderwysdoelwitte verwesenlik kan word.
Dié skole moet dus met sorg en sensitiwiteit benader word, het hy gesê, maar bygevoeg dat hulle eweneens ’n veel groter bydrae kan lewer om hul kundigheid en ervaring met township-skole te deel en só in die behoeftes van alle leerders in Suid-Afrika te help voorsien.
Hoewel Bloch erken dat UGO nie in sy doel geslaag het om leerders te skep wat “tegnologies geletterd” en “gereed vir ’n snelveranderende wêreld” is nie, is die oplossing volgens hom ook nie om die leerplan te herskryf nie.
“Die geleentheid doen hom voor – en die tyd is min – waar belanghebbendes die foute van die verlede moet erken en eenstemmigheid moet kry oor die pad vorentoe.”
’n Moontlike vertrekpunt is om township-skole reg te ruk en nie langer te kibbel oor hoe UGO misluk het nie.
Bloch is onlangs wyd gekritiseer vir sy rol in die bepleiting en instelling van UGO, terwyl hy deesdae verklaar dat die onderwysstelsel in ’n krisis verkeer.
Dié wat daarop aandring dat hy moet jammer sê, het self baie om van rekenskap te gee, het Bloch gesê. “In 1976 was daar slegs 1 200 swart matrikulante met ’n 53%-slaagsyfer. Ten spyte van ons baie tekortkominge het 600 000 leerders verlede jaar oor die land heen matriek geskryf met ’n 63%- slaagsyfer.”
- Die Burger