Onderwys-amptenare gaan vasgevat word
2010-06-16 04:46
Durban - Die KwaZulu-Natalse onderwysedepartement het Dinsdag gesê hy oorweeg om kriminele klagte te lê en dissplinêre aksie te neem teen van sy amptenare, ná die bevindinge van 'n verslag bekend gemaak is.
"Dit sluit in optrede teen spesifieke amptenare, ernstige oorweging van kriminele klagte in sekere gevalle en die hersiening van sekere praktyke wat verband hou met die verkryging van dienste, met die oog op strenger beheer en beter bestuur," het Seno Mchunu van die KwaZulu-Natalse onderwysdepartement gesê.
Die Suid-Afrikaanse Demokratiese Onderwysersunie (Sadtu) het in 2009 beweer dat sommige topamptenare in die onderwysdepartement korrup was.
Ouditeure is later aangestel om die aantygings te ondersoek.
Mchunu het aan die media in Durban erken dat 'n oorsig van die verslag se bevindinge dit duidelik gemaak het dat dit nodig is om aksie te neem.
Hy het gesê Sadtu het ook beweer dat die KwaZulu-Natalse superintendent-generaal in die onderwysdepartement, Cassius Lubusi, korrup was.
"Niks van die beweringe teen die superintendent-generaal word in die verslag gestaaf nie," het Mchunu gesê.
Mchunu het gesê geen van die amptenare wat ondersoek is, is geskors of afgedank nie.
"Ons is nie in die posisie om die amptenare wat ondersoek is, se name bekend te maak nie. Ons sal dit binnekort bekendmaak."
- SAPA