Ondersoekbeampte in Oscar-saak kap terug
2013-02-21 08:53
Pretoria – Die ondersoekbeampte in die Oscar Pistorius-moordsaak het gesê die aanklagte van poging tot moord wat heringestel is teen hom, kan dalk verbind word met sy ondersoek.
"Ek verstaan nie hoekom die aanklagte Woensdag heropen is nie. Ek kan net dink dit hou verband met my werk oor Oscar Pistorius," het ao. Hilton Botha aan die eNCA-nuuskanaal gesê.
Die aanklagte hou verband met 'n skietvoorval wat plaasgevind het terwyl drie polisiebeamptes, insluitend Botha, na bewering dronk was. Botha, wat die polisie-ondersoek lei na die skietery wat op Valentynsdag in Pistorius se huis plaasgevind het, en die twee ander beamptes sal in Mei in die hof verskyn, het 'n Neville Malila, 'n polisiewoordvoerder, bevestig.
"My bloed is nooit ná die skietery vir alkohol getoets nie. Ek was nie dronk nie," het Botha gesê.
"Ons het probeer om 'n tweede verdagte in hegtenis te neem in verband met 'n moord by 'n kantoorblok. Die taxi het probeer om ons van die pad af te stoot. Ons het geskiet."
Malila het gesê die saak is na die direkteur van openbare vervolging gestuur nadat die aanklagte teruggetrek is.
"Die direkteur het ons eers gister [Woensdag] in kennis gestel dat hy aangekla word."
– Lees meer hier
– Volg Nuus24 op Twitter