Ondersoek oor seksklagte teen oud-tennisster afgehandel
2012-07-05 14:44
Johannesburg – 'n Ondersoek oor bewerings van seksuele aanranding teen die voormalige toptennisspeler Bob Hewitt is afgehandel, het die polisie Donderdag gesê.
"Die saak is tans by die nasionale direkteur van openbare vervolging in Johannesburg sodat 'n besluit geneem kan word," het lt. kol. Lungelo Dlamini gesê.
"Die ondersoek is afgehandel. Ons wag vir 'n besluit oor of iemand aangekla gaan word."
Volgens Dlamini weet hy nie wanneer die besluit geneem sal word nie.
Volgens die Associated Press (AP) het Suellen Sheehan (43), 'n Johannesburgse sakevrou, die polisie in Desember gevra om Hewitt te ondersoek oor beweerde seksuele aanranding.
Sy beweer Hewitt het haar op die ouderdom van nege begin misbruik toe hy haar vir tennis afgerig het. Sy sê die mishandeling het aangehou totdat sy 14 was. Sheehan het verlede jaar vir die eerste keer daaroor gepraat.
Volgens haar weet sy van ander vroue in Suid-Afrika, Amerika en Nieu-Seeland wat gesê het hulle is ook deur Hewitt misbruik.
Hewitt (72), oorspronklik van Australië, woon nou in Addo in die Oos-Kaap.
Hy het in die 1960's en 1970's tennis gespeel, en in die 1980's jong tennisspelers in Suid-Afrika afgerig. Hy is in 1992 in die Internasionale Tennisheldegalery opgeneem.
Sheehan en ander beskuldigdes het verlede jaar gevra dat Hewitt uit die galery verwyder word.
Die galery, wat in Newport, Rhode Island gebaseer is, het Dinsdag aan AP gesê hy het 'n prokureur aangestel om die bewerings teen Hewitt te ondersoek.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA