Ondersoek na heli-ramp begin
2010-07-24 11:30
Johannesburg - 'n Ondersoek is gelas na die oorsaak van die helikopterongeluk waarin sewe polisiebeamptes dood is, het brig. Sally de Beer, 'n polisiewoordvoerder, Saterdag gesê.
Die ondersoek gaan tyd neem en sal deur die polisie, weermag en die wêreld se grootste helikoptervervaardiger Eurocopter gedoen word.
Die helikopter waarin die vyf polisiemanne, 'n polisievlieënier en 'n bemanningslid was, was Vrydagoggend van Pretoria na eMalahleni (Witbank) onderweg toe hul helikopter in Pine Ridge naby die Klarinet-plakkerskamp in eMalahleni ontplof en neergestort het.
Die polisie sal Donderdag om 10:00 'n gedenkdiens vir die oorledenes hou, het de Beer gesê.
Die polisiemanne wat in die ongeluk dood is, is die vlieënier kapt. Wikus Zaayman (31) en sy bemanningslid ao. Thinus Gouws (39), kol. Teboho Percy Maduna (39), ao. Colin Davids (37), ao. Dirk Cornelis van Aswegen (35), sers. Jacobus Henning (28) en sers. Daniel "Kraai" de Bruin (31).
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA