Ondersoek na aanranding van leerling geloods
2011-09-27 17:58
Kaapstad – Die Wes-Kaapse departement van gemeenskapsveiligheid ondersoek die beweerde aanranding van ‘n hoërskoolleerling deur twee veiligheidswagte by die Chris Hani Hoërskool in Kaapstad, het Dan Plato, LUR, Dinsdag gesê.
“Wangedrag deur veiligheid-vrywilligers by skole sal nie geduld word nie en die dienste van die twee betrokke vrywilligers is onmiddellik beëindig,” het Plato in ‘n verklaring gesê.
Die matriekleerling, Malibongwe Malani, het ruggraat-beserings opgedoen in die aanval by die skool in Khayelitsha. Leerlinge het Maandag teen die aanval by die skool betoog.
Volgens Plato ondersoek die polisie strafregtelike klagte teen dié wat betrokke is.
Die skool se program van veiligheid-vrywilligers word ook hersien om seker te maak dit is in lyn met die “strategiese doel om veiligheid in die Wes-Kaap te verbeter”.
Die departement herdefinieer nou die rol wat vrywilligers wat as ‘n “skadu-veiligheidsmag” in die verlede opgetree het.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA