Ondersoek kom ná Harrismith-ongeluk
2011-12-10 14:30
Johannesburg – Die KwaZulu-Natalse departement van vervoer het sy skok uitgespreek met die dood van 30 mense Saterdagoggend in 'n botsing tussen 'n minibus-taxi en 'n vragmotor op die N3 naby Harrismith in die Vrystaat, het RSG Saterdag berig.
'n Woordvoerder van die departement, Kwanele Ncalane, sê dit was die ergste ongeluk op sy paaie sedert dié vakansieseisoen aangebreek het.
Hy het namens die LUR van Vervoer, Willies Mchunu, sy medelye betuig met die slagoffers se families.
Tien van die 30 slagoffers was kinders. Die ongeluk het gebeur toe die minibus-taxi vermoedelik in 'n draai buite beheer geraak en voor die aankomende vragmotor beland het.
Daar was 35 mense op die oorlaaide taxi, wat slegs 23 passasiers kon vervoer. Sewe mense is steeds in die hospitaal met ernstige beserings.
Volg Nuus24 op Twitter.
– RSG