Ondersoek geëis ná raadslid by Marikana sterf
2012-09-20 09:35
Johannesburg – Die polisieminister, Nathi Mthethwa, moet die dood van die ANC-raadslid Pauline Masutlhe in Marikana, wat glo deur ‘n rubberkoeël veroorsaak is, ondersoek, het die Marikana Solidarity Campaign Donderdag gesê.
"Ons doen 'n beroep op die minister van polisie om onmiddellik 'n dringende ondersoek na die dood van Pauline Masutlhe te begin en dat die betrokke polisiebeamptes uitgeken en onmiddellik geskors word," het Mark Heywood, ‘n woordvoerder, in ‘n verklaring gesê.
“Gegewe die besonderhede oor die tyd en plek van hierdie aanval behoort dit nie moeilik te wees nie. Getuies is beskikbaar en bereid om bewyse te gee as hul veiligheid gewaarborg kan word.”
Masutlhe is Woensdag by die Job Shimankane Tabane-hospitaal in Rustenburg dood nadat sy 'n operasie ondergaan het om 'n rubberkoeël, wat deur die polisie afgevuur is, te laat verwyder.
Heywood sê Masutlhe het tydens die voorval inkopies gedoen by die Nkaneng- informele nedersetting naby Wonderkop.
Die polisie was in dié stadium besig met 'n klopjag om die stakende werkers uiteen te jaag.
“Sover ons van ander mense wat teenwoordig was kan vasstel, het Pauline beserings aan haar regterknie en buik opgedoen. Verskeie ander vroue is ook beseer.”
Die Marikana Solidarity Campaign sal Saterdag om 11:00 ‘n betoging vir vroue teen polisiebrutaliteit in Marikana hou.
Die inter-ministeriële komitee en die kantoor van die premier in die Noordwes het hul medelye betuig ná Masutlhe se dood.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA