Onderhandelings by Marikana 'onmoontlik'
2013-02-06 15:00
Rustenburg – Onderhandelings met stakende werkers by Lonmin se Marikana-myn was onmoontlik, het die Farlam-ondersoekkommissie Woensdag gehoor.
“As ek in daardie posisie was, sou ek aan my eie kinders dink... Onderhandelings onder daardie toestande was onmoontlik,” het Senzeni Zokwana, president van die National Union of Mineworkers (NUM) gesê.
Hy het gereageer op ‘n vraag van adv. Dali Mpofu, wat die werkers verteenwoordig wat in Augustus verlede jaar tydens die gewelddadige stakings by die myn in die Noordwes beseer en in hegtenis geneem is.
Mpofu het gevra of verteenwoordigers van Lonmin op 15 Augustus met stakers kon vergader. Volgens e-posse wat op dié dag tussen Cyril Ramaphosa, direkteur van Lonmin, en ander senior bestuurders gestuur is, was die situasie by die myn relatief vreedsaam.
Zokwana het egter volgehou dat die situasie te gespanne was.
Teen 15 Augustus het 10 mense, insluitend twee sekerheidswagte van Lonmin, al in die gewelddadige stakings gesterf. Altesaam 34 mynwerkers is op 16 Augustus doodgeskiet en 78 gewond toe die polisie losgebrand het terwyl hulle probeer het om ‘n groep betogers te verjaag.
Zokwana het gesê slegs diegene wat opgelei is om sulke groot skares te beheer kan geweld stop – nie onderhandelaars nie.
“Dit was nie meer ‘n kwessie van arbeidsverhoudinge nie. Jy het ander instrumente nodig om dit te hanteer. Die SAPD [polisie].”
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA