Omvang van Jhb-rekeningkrisis 'oordryf'
2011-03-05 13:50
Johannesburg - Die rekeningkrisis wat hom tans in Gauteng afspeel is "buite alle proporsie" oordryf, het die hoof van die portefeuljekomitee vir plaaslike regering en behuising Saterdag aan The Star gesê.
Errol Magerman, die voorsitter van die komitee, het 'n besoek by Johannesburg se stadsraad afgelê en gesê die raadslede was "reguit en eerlik oor party van die probleme," het die koerant berig.
"Dit is die implementering van 'n nuwe stelsel wat heel duidelik hierdie probleme veroorsaak het," het hy gesê.
Dié uitspraak volg op 'n rekeningkrisis in die provinsie wat veroorsaak het dat sommige verbruikers onder andere hoë rekeninge ontvang het. Party verbruikers se munisipale dienste is sonder kennisgewing afgesny.
Magerman sê die komitee sal die situasie monitor om te voorkom dat 'n soortgelyke probleem weer ontstaan.
'n Verslag oor die krisis sal ook later ingedien word.
- Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA