Omstredenheid rondom Mandela-ongeluk
2010-06-14 15:20
Johannesburg – Die man wat die motor bestuurder het waarin oudpres. Nelson Mandela se agterkleinkind, Zenani Mandela, gesterf het, sal op 26 Julie in die hof verskyn, het die nasionale vervolgingsgesag (NVG) Maandag gesê.
“Hy sal in die landdroshof in Johannesburg verskyn,” het Mthunzi Mhaga, woordvoerder, gesê.
Volgens Mhaga gee die NVG eers die polisie 'n kans om die voorval te ondersoek voordat die 23-jarige Sizwe Mankazana in die hof sal verskyn.
Volgens die Automobiel-Assosiasie (AA) moet ‘n persoon sowat 24 uur nadat hy vir dronkbestuur in hegtenis geneem is, in die hof verskyn.
Mhaga wou nie kommentaar lewer op 'n vraag of Mankazana voorkeur geniet omdat hy deel is van die Mandela-familie nie.
Brig. Govindsamy Mariemuthoo, polisiewoordvoerder, het Maandag bevestig dat die verdagte ‘n aanklag van dronkbestuur in die gesig staar.
“Hy is ook aangekla van strafbare manslag,” het Mariemuthoo gesê.
Volgens hom moet die polisie eers hulle ondersoek afhandel alvorens die verdagte in die hof sal verskyn.
Beamptes by die hof is glo aangesê om nie met die media te kommunikeer nie.
Die 13-jarige Zenani Mandela het Donderdagaand in ‘n motorongeluk gesterf na afloop van die openingskonsert van die Wêreldbeker-sokkertoernooi in Soweto.
Haar dood was ook die rede waarom Nelson Mandela nie Vrydag by die amptelike opening van die toernooi was nie.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA