Omstrede wetswysigings bly
2011-03-18 08:44
Kaapstad - Pres. Jacob Zuma het Donderdag gesê hy sien geen rede om die omstrede wysigings aan die Wet op Gelyke Indiensneming terug te trek nie.
Haniff Hoosen, OD-LP, het in vraetyd in die Nasionale Vergadering aan Zuma gesê die voorgestelde wysigings sal baie mense dwing om soos in die verlede na sekere gebiede in die land te trek om hul kanse te verhoog om werk te kry.
Oproepe om die wysigings terug te trek, het opgeklink nadat Jimmy Manyi, regeringswoordvoerder, vroeër gesê het daar is ’n “oorkonsentrasie” van bruin mense in die Wes-Kaap en dat hulle oor die res van die land moet versprei.
Hoosen het daarop gewys dat Suid-Afrikaners diep op rassegrondslag verdeeld is weens apartheidswetgewing.
“Ons mense word weer eens op rasgronde verdeel deur dié wysigingswetsontwerp.
“Daar was reeds verskeie oproepe op nasionale vlak om die wysigingswetsontwerp in sy huidige vorm terug te trek weens die skade wat dit kan aanrig. Gaan u dié oproepe ondersteun?” wou Hoosen weet.
“Ek het nie ’n rede om dié oproep te ondersteun nie. Die wetsontwerp het na die parlement gekom om vir ons almal tyd te gee om bydraes daaroor te lewer, dit te verander, aan te pas en te kry soos ons dit wil hê,” het Zuma geantwoord.
“Dit is ’n baie eienaardige ding dat die wetsontwerp in die parlement bespreek word selfs voordat dit in die parlement is vir debatvoering. Wanneer ons wette maak in dié land, kry die hele nasie oor die algemeen kans om kommentaar te lewer, die wet te wysig en aan te pas.
“Die wetsontwerp moet hiernatoe kom. As jy nie daarvan hou nie, sal jy ’n geleentheid kry om veranderings aan te bring. Ek dink nie ons moet die werk van die parlement vooruitloop nie. Die parlement moet die kans kry om die wetsontwerp te bespreek en dit te kry in die vorm wat ons dit wil hê.”
Hoosen het ná die sitting sy teleurstelling in ’n verklaring uitgespreek.
“Die president het met sy weiering om die oproep te ondersteun ongelukkig die geleentheid misgeloop om die land op rasgronde te verenig en om verhoudinge tussen rassegroepe te bevorder. Apartheidswetgewing het tot diepe verdeeldheid tussen rassegroepe gelei. Dié wetgewing gaan net daardie verdeeldheid verder verdiep.”
- Die Burger