Omstrede sakeman kry grond in Zim
2010-01-14 10:00
André le Roux
Media24-Afrika-kantoor
Johannesburg - Terwyl die veldtog verskerp word om wit boere van hul plase te verdryf, gaan die Zimbabwiese regering 100 000 ha grond gee aan Billy Rautenbach, ’n omstrede Suid-Afrikaanse sakeman.
Hy gaan bio-brandstof hier produseer.
“Dis ’n absolute skandaal, terwyl ons soos honde verdryf word van ons plase wat kos vir Zimbabwe produseer,” het Charles Taffs, ondervoorsitter van die Zimbabwiese boerevereniging, gister aan Beeld gesê.
Die Nuanetsi-landgoed in die Masvingo-provinsie behoort aan die Josua Nkomo-trust en is nié een van die plase wat sedert 2002 by wit boere afgeneem is nie.
“Dit gaan oor die beginsel en nie omdat Rautenbach wit is of oor wit boere nie.
“Hy is ingeklits by Mugabe se Zanu-PF. Dit gaan oor geld.
“Benewens die verlies aan die grond vir broodnodige landbouproduksie, gaan meer as 10?000 mense van die landgoed verdryf word,” het Taffs gesê.
Rautenbach gaan glo deur sy maatskappy, Zimbabwe Bio-Energy, meer as $1miljard (R7,4miljard) in die projek belê.
Pres. Robert Mugabe en Emmerson Mnangagwa, minister van verdediging, het na bewering aandele in Rautenbach se maatskappy.
’n Suid-Afrikaanse hof het hom onlangs kwytgeskeld van ’n reeks aanklagte in ruil vir sy getuienis in die verhoor van mnr. Jackie Selebi, voormalige polisiekommissaris.
Die besluit om die grond aan Rautenbach beskikbaar te stel om suikerriet vir die doel van bio-diesel te verbou, het die steun van mnr. John Nkomo, een van Zimbabwe se vise-presidente, wat ook ’n trustee is.
Dit het egter nie die goedkeuring van alle Zanu-PF-ondersteuners in Masvingo nie.
Die oordrag van die hoogs vrugbare grond word deur Zanu-PF se provinsiale leierskorps teengestaan.
“Ons moet onsself die vraag vra: Waar is swart bemagtiging as ons gaan toelaat dat een wit man so ’n groot stuk grond oorneem?” het mnr. Lovemore Matuke, provinsiale voorsitter van Zanu-PF, volgens die Zimbabwe Times gesê.
Hy word gesteun deur Titus Maluleke, goewerneur van Masvingo. Nkomo het volgens The Herald, die regeringsmondstuk, in reaksie op die kritiek gesê diegene wat teen Rautenbach se rol gekant is, is “hekse wat gekant is teen ontwikkeling in Masvingo. Billy (Rautenbach) is ons vriend en diegene wat hom van die plaas wil sit, is MDC-ondersteuners.”
Die MDC is ook teen die Rautenbach-projek gekant.
Nelson Chamisa, woordvoerder van die MDC, het Woensdag gesê so ’n projek behoort eers oorweeg te word nadat ’n volwaardige grond-oudit in Zimbabwe gedoen is.
- Beeld