Omstrede sakeman in nóg 'n tender-skandaal
2011-05-08 11:36
Johannesburg – Die Openbare Beskermer (OB) het ingegryp om dringend 'n stokkie te steek voor nóg 'n duistere polisiehuurkontrak waarby die omstrede sakeman Roux Shabangu betrokke is, berig die Sunday Times.
Dié kontrak is R1 miljard werd.
Dit het aan die lig gekom dat Shabangu die voorloper is om die tender vir nuwe polisiehoofkwartiere in Durban te kry.
'n Vorige poging om die tender in Durban aan Shabangu toe te ken sonder dat hy getender het, is op ys geplaas nadat die Sunday Times dit verlede jaar oopgevlek het.
In April vanjaar, maande voor die adv. Thuli Madonsela, die OB, haar huidige ondersoek moes afsluit, het die departement van openbare werke dieselfde kontrak getender.
Volgens die verslag is die tender aangepas om te verseker dat Shabangu wen.
Madonsela het snuf in die neus gekry oor die nuwe tender wat toegeken is nadat die Sunday Times gevra het of die departement van openbare werke haar goedkeuring gekry het.
"Die Openbare Beskermer gaan die minister van openbare werke dringend nader oor die saak," het Kgalalelo Masibi, Madonsela se woordvoerder, gesê.
Die twee prosesse hou direk verband met mekaar en die OB se verslag oor die huurkontrak in Durban wat geskrap is, kan die tenderproses affekteer.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA