Omstrede sakeman by nóg 'n huurkontrak betrek
2011-06-03 14:32
Johannesburg – Die omstrede sakeman Roux Shabangu word by nóg 'n multimiljoen-rand polisie-huurkontrak vir 'n gebou twee keer die grootte wat die regering benodig, het Mail&Guardian berig.
Die huurkontrak van R137 miljoen vir 'n gebou in die Pretoriase middestad sal die kantore van die Onafhanklike Klagtedirektoraat (OKD) wees.
Die 10 jaar huurkontrak is in April 2009 deur die departement van openbare werke onderteken.
Thuli Madonsela, Openbare Beskermer, ondersoek nóg 'n huurooreenkoms van die nuwe polisiekantoor in Durban nadat 'n soortgelyke ondersoek in Pretoria gedoen is.
Shabangu, nasionale polisiehoof, genl. Bheki Cele, en die departement van openbare werke is by albei ooreenkomste betrokke.
Japie van Niekerk, Shabangu se sakevennoot, het gesê Shabangu het die gebou in Vermeulenstraat gekoop nadat sy "politieke kennisse" aan hom gesê het die departement van openbare werke beoog om die gebou te huur.
Shabangu het die geld by Van Niekerk geleen om die gebou te koop.
Nie Shabangu of die departement wil kommentaar lewer oor die bewerings nie.
Shabangu se maatskappy, Majestic Silver Trading 275, het in September 2008 die gebou by Sayed Mia gekoop vir R23 miljoen.
Shabangu het Van Niekerk het dit "geheimsinnig twee keer tussen hulle oorgedra" en is toe in die naam van Majestic Silver geplaas vir 'n verhoogde prys van R41,8 miljoen. Dít is hoeveel Shabangu verskuldig is aan Van Niekerk se maatskappy.
Volgens die huurooreenkoms. moet die regering maandeliks R729 280 vir die eerste jaar betaal. Dié bedrag sal jaarliks met 10% toeneem.
Dit is nie duidelik of die departement van openbare werke die kontrak getender het voor die kontrak onderteken is nie.
Die OKD benodig 'n ruimte van 3 668 m² met 108 parkeerplekke, teen 'n begroting van R6,2 miljoen vir die eerste jaar van die huur.
Die gebou in Vermeulenstraat het 'n ruimte van 7 614 m² met 102 parkeerplekke en kos jaarliks R8,8 miljoen.
Volg Nuus24 op Twitter