Omstrede eiendomsmagnaat wéér in sop
2011-06-06 16:54
Pretoria – Die eiendomsmagnaat Roux Shabangu staar regsaksie in die gesig nadat hy versuim het om sowat R5 miljoen aan 'n staalverskaffer te betaal, het die Sowetan Maandag berig.
Volgens die berig is Shabangu deur die Pretoriase hooggeregshof beveel om R4,742,396.56 aan Alert Steel te betaal vir boumateriaal wat op 31 Mei by die Tweefontein-polisiekantoor afgelaai is.
Alert Steel is nie betaal nie en oorweeg verdere regsaksie teen Shabangu.
"Ek gaan nie betaal nie, want as ek dit doen, sal dit beteken dat ek die polisiekantoor uit my eie sak bou," het Shabangu gesê.
Twee huurkontrakte van Shabangu se maatskappy word deur adv. Thuli Madonsela, Openbare Beskermer (OB), ondersoek.
Mail&Guardian het verlede Vrydag berig dat Shabangu verbind word aan 'n huurkontrak vir 'n gebou in die Pretoriase middestad wat R137 miljoen beloop. Dié gebou sal die kantore van die Onafhanklike Klagtedirektoraat (OKD) wees
Die OB sal ook na verwagting 'n verslag na 'n huurkontrak vir die polisie in Durban bekend maak. Shabangu word hierby ook betrek.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA