Omstrede Cope-man sterf
2010-10-08 11:13
Nelspruit - James Nkambule (37), streekvoorsitter van Cope in Mpumalanga, is Donderdagaand dood kort nadat hy by sy huis in Barberton inmekaargesak het.
Hy is na die provinsiale hospitaal gebring waar hy met sy aankoms dood verklaar is.
Nkambule was die afgelope maande die middelpunt van politieke omstredenheid in Mpumalanga omdat hy na vore gekom het met bewerings van ‘n politieke komplot binne in die ANC wat daarop gemik is om teenstanders van premier David Mabuza te vermoor.
Die "bron" van Nkambule se bewerings was die sogenaamde "Josh" wat aanvoer hy is deur senior politici in die provinsie betaal om hooggeplaaste politici en sakemanne te vermoor. Die sogenaamde moordlys het reeds sowat twee jaar gelede die ronde begin doen.
Twee van die persone op die lys, Jimmy Mophlala, voormalige speaker van die Mbombela-munisipaliteit in Nelspruit, en Sammy Mpatlanyane, is die afgelope twee jaar doodgeskiet.
Nkambule is onlangs aangekla vir sameswering om ‘n misdaad te pleeg, aanhitsing, bedrog en regsverydeling wat verband hou met sy rol in die beweerde moordlys.
Nkambule was etlike jare gelede die voorsitter van die ANC se jeugliga in Mpumalanga, maar is in 2001 uit die party geskors omdat hy destyds beweer het mnre. Mathews Phosa en Tokyo Sexwale het saamgesweer om oud-president
Thabo Mbeki uit die kussings te lig.
Nkambule het ook beweer Mbeki was in 1993 betrokke by die sluipmoord op Chris Hani.
- Beeld