Omroeper verloor lewensmaat
2009-12-14 06:17
Verslagspan: Sonja van Buul, Philip de Bruin en Wolfram Zwecker
Johannesburg-Die lewensmaat van die radio-omroeper Amoré Bekker is een van twee mans wat dood is toe hul kunsvliegtuig gister suid van Johannesburg neergestort het.
In wat as ’n wonderwerk beskryf word, het nóg twee mans ongedeerd geklim uit die wrak van ’n ander vliegtuig wat kort daarna deur ’n betonmuur by die Randse Lughawe geploeg het.
Die oorledenes is Paul Geng en dr. Robbie Nutt van Johannesburg, mede-eienaars van die Extra 300-vliegtuig waarmee die Noordwes-Arende se lug-akrobatiese span toertjies doen.
Bekker sê sy vind troos daarin dat Nutt het gesterf het terwyl hy met sy groot passie in die lewe, kunsvlieg, besig was.
“Ek het hom vanoggend (gisteroggend) gesien net voordat hy vliegveld toe is. Robbie was gek oor kunsvlieg en het verlede week aan sy eerste amptelike byeenkoms deelgeneem. Hy was nogal die naaswenner. Dit was sy manier van ontspan ná ’n dag se werk.”
Die twee het by die Randse Lughawe opgestyg. Omstreeks 08:40 het die vliegtuig in die veld naby die Tedderfield Air Park in Eikenhof neergestort.
Kapt. Shado Mashobane, polisiewoordvoerder, sê die mans het vermoedelik ’n lugtoertjie uitgevoer toe die vliegtuig geval het. Hulle is op slag dood.
“Die oorsaak van die ongeluk is nie bekend nie, maar sal deur die Burgerlugvaartowerheid ondersoek word.”
In die ander voorval het ’n Piper Arrow van die Sky Raiders-vliegskool kort ná 08:00 by die Randse Lughawe probeer opstyg, maar deur die betonmuur aan die einde van die aanloopbaan geploeg.
Dit het daarna oor Rand Airportstraat gegly en tot amper teen die heining van die Germiston-gholfbaan beland.
Chris Botha van Netcare 911 het gesê die twee insittendes was heeltemal ongedeerd.
- Die Burger