Omkopery raak al erger – peiling
2011-11-23 08:03
Johannesburg – Korrupsie neem toe in Suider-Afrika en die meeste mense betaal omkoopgeld vir dienste van die staat.
Die polisie word as die mees korrupte staatsinstelling beskou, blyk uit ’n nuwe opname van die teenkorrupsie-organisasie Transparency International.
Altesaam 56% van die mense wat in die afgelope jaar met staatsdiensverskaffers in aanraking was, is gevra om omkoopgeld te betaal, wys die opname luidens ’n verklaring van Transparency International.
Die opname is onder meer as 6 000 mense in Suid-Afrika, die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK), Malawi, Mosambiek, Zambië en Zimbabwe gedoen.
Van die respondente het 62% gesê hulle meen korrupsie het in die afgelope drie jaar vererger.
Tog het 80% gesê hulle is bereid om by die stryd teen korrupsie betrokke te raak en ’n driekwart meen gewone mense kan ’n verskil in dié stryd maak.
Mense in al ses die lande het die polisie as die mees korrupte diensverskaffer uitgesonder en gesê die meeste omkoopgeld word aan die polisie betaal.
In vier van die ses lande het mense gesê hulle betaal omkoopgeld om die lewering van dienste te versnel, maar in Suid-Afrika en die DRK word dit eerder betaal om probleme met die owerhede te voorkom.
In vyf van die lande het die mense meer vertroue in die regering om korrupsie te beveg as nieregeringsorganisasies, die media, internasionale organisasies of die private sektor. In Malawi is daar wel ewe veel vertroue in die regering en nieregeringsorganisasies.
“Regerings moet besef mense gaan korrupsie nie langer duld nie en begin om swak instellings, veral die polisie, te hervorm,” het Chantal Uwimana, Transparency International se streekdirekteur vir Afrika en die Midde-Ooste, gesê.
“Mense het ’n reg om te voel die polisie beskerm hulle en teister hulle nie.”
Volg Nuus24 op Twitter.
- Die Burger