Omkoper vas ná verkeersbeampte weier
2011-10-26 23:01
Kaapstad – ‘n Man van Durbanville het in die hof verskyn
nadat hy gepoog het om ‘n verkeersbeampte om te koop.
Edurad Floyd Towns (41) het voor die landros
Amrith Chabilall verskyn wat hom op borgtog van R2 000 laat gaan het.
Hy moet in November weer voor die hof verskyn.
Aanklaer Zama Mtayi voer aan dat Towns in die
vroegoggendure van 14 Mei na die polisiestasie in Durbanville gegaan het om sy
vriend uit die tronk te probeer kry.
Sy vriend, Christopher Rube, is op aanklag van
dronkbestuur in hegtenis geneem.
Volgens die klagstaat het Towns gesê dat hy ‘n
DA-raadslid is en dat hy ‘n donasie van R25 000 aan die polisiestasie gaan
maak.
Hy het personeellede van die polisiestasie
vertel dat die verdagte se pa elke maand ‘n donasie van R1 miljoen aan die DA
maak en dat om dié rede, moes hulle sy vriend vrylaat.
Volgens die klagstaat het die polisieamptenare
Towns geïgnoreer waarna hy verkeersbeampte Susan Petersen in die klagkantoor
genader het.
Mtayi voer aan dat Towns vir Petersen “enige
bedrag wat (sy) wil hê” aangebied het indien hulle die klagte teen sy vriend
laat vaar.
Towns is daardie selfde aand in hegtenis
geneem.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA