Om kinders, sig terug te kry bly 'n droom
2010-08-29 08:05
Pretoria - Die drome van ’n blinde Zimbabwiese vrou om weer te kan sien en met haar kinders herenig te word, bly vir eers drome.
Dié
vrou se kinders is onder die ses wat verlede Vrydag in Pretoria van
mense afgevat is in ’n “klopjag” op bedelaars van die Gautengse
departement van maatskaplike ontwikkeling en gesondheid en die
Tshwane-metropolisie.
Rapport het dié 28-jarige vrou, wat nie
geïdentifiseer mag word nie om haar kinders te beskerm, eergister na ’n
oogspesialis in Centurion geneem wat sy dienste verniet aangebied het
nadat hy van die gesin se lot gelees het.
Dr. Pieter Oosthuizen
het byna twee uur lank toetse op haar gedoen om te bepaal of daar
enigiets aan haar verlore sig gedoen kan word. Hy kon weens sy professie
se etiese reëls nie oor die uitslae uitwy nie.
Sy het egter aan
Rapport gesê die spesialiste kan nie veel vir haar doen nie. “Hy sê ek
moet nou so bly. Ek is baie dankbaar hy het my gesien.”
Die vrou kon ook nie die afgelope week by haar kinders uitkom nie.
Ingevolge
’n ooreenkoms wat Dinsdag in die hooggeregshof in Pretoria bekragtig
is, kon ’n Mosambiekse skoenmaker, wie se driejarige dogtertjie afgevat
en in die Desmond Tutu Plek van Veiligheid geplaas is, sy kind terugkry,
maar die Zimbabwiese vrou se kinders bly vir eers daar.
Die
owerheid sal eers hul situasie ondersoek en dit dan aan die kinderhof
oorlaat om ’n besluit te neem. Die ondersoek kan nog vyf weke duur.
“Ek
kan nie aangaan sonder my kinders nie,” het die vrou eergister gesê. Sy
het Woensdag haar kinders by die instelling probeer besoek, maar moes
onverrigter sake omdraai. Volgens haar het die amptenare gesê sy moet
eers dokumentasie soos bewys van ouerskap aan hulle oorhandig.
Dokumentasie
is ’n luuksheid vir iemand in haar posisie. Sy en haar man, wat ook
blind is, is asielsoekers. Dié permitte moet egter gedurig by
binnelandse sake hernu word en haar permit het reeds verval.
Hulle het drie jaar gelede Suid-Afrika toe gevlug toe haar man nie meer vir sy gesin kon sorg nie.
Die
egpaar, saam met hul (nou) 4-jarige kind met sigprobleme, het met busse
van Ivambu in Zimbabwe tot naby die grens by Musina getrek.
“Elke dag was verskriklik. Ons moes mense vra waar ons is. En ons moes soldate betaal om oor die grens te kom.”
In Musina moes hulle probeer uitvind hoe om ’n bus na Johannesburg te haal – die enigste stad van hoop waarvan hulle geweet het.
Sedertdien
bly die egpaar, hul twee kinders en Annabell Mhondiwa in ’n
eenslaapkamer-woonstel in Doornfontein, Johannesburg. Mhondiwa is ook ’n
Zimbabwiese asielsoeker wat die egpaar help in ruil vir verblyf.
Dit
behels dat Mhondiwa saam met die vrou by straathoeke bedel, gewoonlik
in Johannesburg. “Ek het so een keer per week, gewoonlik op ’n Sondag,
Pretoria toe gegaan.”
Op die dag van die “klopjag” was sy toevallig op ’n weekdag daar.
Die doel van die operasie was om veral vroue wat kinders gebruik om te bedel, vas te trek.
Sy sê sy is bereid om na Zimbabwe gedeporteer te word solank sy haar kinders, van wie een net 18 maande oud is, kan terugkry.
- Rapport