Olifant trap gids dood
2011-11-07 09:07
Nelspruit – ’n Verwoede olifant het die naweek ’n veldwagter in die Welgevonden-natuurreservaat in Limpopo doodgetrap wat besig was om foto’s te neem.
Tavus Momberg (29) het die afgelope jaar as ’n veldwagter en toergids by die Makweti Safari Lodge in die reservaat tussen Vaalwater en Lephalale (Ellisras) gewerk.
Hy en ’n kollega, net bekend as Jacques, het eergister omstreeks 11:00 in die veld gestap. Jacques het in ’n stadium teruggedraai.
Momberg, ’n kranige amateurfotograaf, het verder die bos ingeloop, blykbaar om nog foto’s te gaan neem.
“Ons is nie seker of hy bome gaan afneem het en of hy dalk die olifant gesien en van die dier foto’s wou neem nie,” het sy broer, Quentin, vanuit hul ouerhuis in Durban vertel.
Jacques het ’n lawaai in die bosse gehoor.
“Dit het blykbaar vir hom geklink soos ’n groot dier wat deur die bos hardloop.
“Hy is terug die bos in om te gaan kyk of Tavus oukei is. Dit is toe dat hy sowat 200 m van die lodge af op Tavus se lyk afkom. Hy was glo bebloed en erg vermink.”
Volgens Quentin het sy broer vir die veld en die natuur geleef en wou hy net in die bos wees.
“Ons was baie geskok toe die lodge ons van Tavus se dood in kennis stel.
“Hy was van skooldae af al versot op toerisme en het intens in die natuur belang gestel.
“Tavus het ’n paar jaar in lodges in Zoeloeland gewerk. Hy was baie gewild onder toeriste en het ongelooflik goeie kontakte oor die wêreld heen opgebou.”
Volgens Quentin was sy broer so gewild by van die buitelandse sakemanne dat hy in ’n stadium selfs werkaanbiedings vanuit die VSA en Brittanje gekry het.
“Maar sy hart was hier in Suid-Afrika. Hy het die aanbiedinge van die hand gewys omdat hy ’n kind van die bos was.”
Helen Wilson van die Makweti Safari Lodge het gesê die voorval sal eers deeglik ondersoek word voordat hulle kommentaar lewer.
Momberg word oorleef deur sy ma, Johanna, en die tweeling Quentin en Adèle.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld