'Oggend-rowers' in Tembisa vasgetrek
2011-09-01 18:55
Johannesburg – Drie mans is in hegtenis geneem in verband met ‘n reeks rooftogte wat tydens die winter in Tembisa, oos van Johannesburg, uitgevoer is, het die Ekurhuleni-metropolisie Donderdag gesê.
Die polisie het die mans Woensdagnag by ‘n huis in Tlamatlama vasgetrek, het Wilfred Kgasago, woordvoerder, gesê.
Hulle het na bewering inwoners van Tshepo en Tlamatlama die afgelope paar weke van selfone en kontant beroof.
“Die mans het voordeel getrek uit die heersende donkerte van die winteroggende en baie mense wat op pad werk toe was met 'n geweer beroof.”
‘n Vierde vermeende rower, wat vermoedelik die geweer besit, sal binnekort in hegtenis geneem word, het Kgasago gesê. Die drie wat in hegtenis geneem is, almal in hul middel-20’s, sal na verwagting Vrydag in die Tembisa-landdroshof verskyn.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA