Offisier by akademie bekyk weens rassisme, korrupsie
2010-06-17 08:26
Erika Gibson, Beeld
Johannesburg - Die departement van verdediging sien aantygings van rassisme, bedrog en korrupsie by die Militêre Akademie op Saldanha in so ’n ernstige lig dat ’n raad van ondersoek nou aangestel is om dit te ondersoek.
Dié stap kom nadat klagtes deur beswaardes by die akademie aan Beeld gestuur is omdat verskeie klagtes aan hoër gesag by die akademie tot dusver op dowe ore geval het.
Siphiwe Dlamini, hoofwoordvoerder van die departement, het bevestig dat die raad van ondersoek nou die saak verder sal voer.
Die klagtes hou hoofsaaklik verband met die optrede van ’n senior offisier wat die afgelope twee jaar glo by enigiets van die beweerde misbruik van regimentsfondse tot die ongemagtigde gebruik van reis- en verblyfgeld en die intimidasie van bruin en wit lede van die akademie betrek word.
Van die geld word glo gebruik vir sy dobbelbedrywighede, terwyl verskaffers kontrakte kry wat nie behoorlik gemagtig is nie.
Dié aktiwiteite word glo deur ongemagtigde reis- en verblyfgeld gefinansier, terwyl die regimentsfonds vir dieselfde doeleindes “misbruik” word. Al die lede van die akademie dra by tot dié fonds, wat veronderstel is om hul eie geriewe te verbeter.
Die afgelope paar maande gebruik die offisier dit glo toenemend om sy gaste en hooggeplaaste besoekers te onthaal op kreef en ander duur geregte.
Hy het glo selfs ’n ooreenkoms met ’n kreefverskaffer gehad wat tans tronkstraf uitdien weens die onwettige handel in seekos.
Hy het verder na bewering ’n vendetta teen die bruin lede van die akademie nadat hy onderling met een van hulle ’n ooreenkoms probeer bereik het om aan hom ’n merietebonus toe te ken, wat hulle dan sou deel.
Die soldaat het glo geweier, maar verskeie van sy kollegas daaroor ingelig. Sedertdien ly dié bruin kollegas glo ’n vreeslike lewe by die werk onder die offisier, terwyl hy dit openlik aan van die wit soldate ook gestel het dat hulle nie te “gemaklik” moet raak nie. Hy het glo gesê hy gaan transformasie toepas totdat dit hom pas.
Dít doen hy glo reeds deur mense uit ad hoc-poste by die akademie te verwyder en met sy eie aanstellings te vervang.
Wanneer die offisier oor van die beweerde ongemagtigde uitgawes gekonfronteer is omdat dit strydig is met die weermag se regulasies, maak hy die regulasies af as riglyne wat verander kan word.
Dlamini het nie gesê wanneer die ondersoek afgehandel sal wees nie.
- Beeld