Obama vol lof vir SA
2010-07-15 07:43
Sarel van der Walt
Washington - Hy het nie getwyfel dat Suid-Afrika die Wêreldbeker-sokkertoernooi suksesvol sou aanbied nie, het pres. Barack Obama van die VSA gesê.
Obama het Woensdagaand in ’n onderhoud met die SABC gesê Suid-Afrika is nie net “’n nasionale kleinood nie, maar ’n wêreldskat”.
Die magtigste staatshoof op aarde het gesê toe hy Suid-Afrika besoek het voordat hy president geword het, het hy tot die besef gekom dat daar “buitengewone lewenskragtigheid” onder Suid-Afrikaners is.
Nadat hy pres. Jacob Zuma leer ken en meer verstaan het van die trots waarmee Zuma oor Suid-Afrika gepraat het, was hy vol vertroue dat die Wêreldbeker-sokkertoernooi ’n sukses sou wees.
Hy glo Suid-Afrikaners deel Zuma se trots, het Obama gesê.
“Vanselfsprekend was die toernooi nie net ’n wonderlike uitstalkas vir Suid-Afrika nie, maar vir Afrika as geheel.
Dit het gewys dat Afrika – ondanks die stereotipes en vals perspektiewe – doeltreffend kan funksioneer wanneer hy die geleentheid gegee word, want dit is ’n vasteland wat baie leiers, entrepreneurs en regerings het,” het Obama gesê.
Afrika moet nou voortbou op hierdie positiewe beeld wat hy ná die Wêreldbeker-sokkertoernooi het.
Die Amerikaanse president het gesê Amerika wil graag saamwerk met dié lande in Afrika wat hul eie vermoë wil uitbou sonder om op lang termyn afhanklik te wees van buitelandse finansiële hulp.
Amerika sal hulle van die nodige hulpmiddels voorsien.
Obama het ook gesê oudpres. Nelson Mandela het die maatstaf gestel vir die leierskap wat in Afrika nodig is.
Toe hy verlede maand met Mandela oor die telefoon gesimpatiseer het ná die afsterwe van sy agterkleinkind (in ’n motorongeluk die dag voordat die Wêreldbeker-sokkertoernooi amptelik geopen is) was die oudpresident so helder en sjarmant soos altyd.
Mandela is steeds ’n rolmodel vir die hele wêreld, het Obama gesê.
Intussen het mnr. Ban Ki-moon, sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies (VN), volgens ’n verklaring van die VN in Kaapstad gesê Afrika en die mense van Suid-Afrika was ondanks die uitslag op die speelveld die uiteindelike wenners van die Wêreldbeker-sokkertoernooi.
Hy het Suid-Afrika geluk gewens en die hoop uitgespreek dat die land se suksesvolle aanbieding van die toernooi opnuut die fokus op Afrika sal plaas en dat dit sal lei tot ’n Afrika-renaissance.
- Beeld