Obama vereer Tutu met hoogste toekenning
2009-08-12 22:35
Washington – Die president van die VSA, Barack Obama, het Emeritus-aartsbiskop dr. Desmond Tutu Woensdag met die hoogste burgerlike toekenning in die VSA vereer.
Obama het die presidensiële vryheidsmedalje Woensdag tydens ‘n seremonie by die Withuis aan die Suid-Afrikaanse kerkleier en Nobel-vredespryswenner oorhandig.
Sestien ander persone, waaronder akteurs, atlete, aktiviste en wetenskaplikes, het ook die toekenning van die Amerikaanse president ontvang. Onder hulle was voormalige Ierse president Mary Robinson en die fisikus Stephen Hawking.
Die toekenning word deur die Amerikaanse president gemaak uit erkenning vir uitnemende bydraes deur individue.
-Sapa-AP