OTM-bomaanvallers vas ná hoëspoed-jaagtog
2011-10-18 23:11
Johannesburg – Twee mans wat vermoedelik op pad was om ‘n OTM op te blaas, is Dinsdagoggend in hegtenis geneem ná ‘n hoëspoed-jaagtog in Marikaza in Noordwes.
Die polisie het omstreeks 05:00 twee verdagte motors – ‘n goue Mercedes Benz en ‘n wit Toyota Run-X – opgemerk, elk met drie insittendes, het brig. Thulane Ngubane, polisiewoordvoerder, gesê.
“Een verdagte in die Run-X het uitgespring en die bosse in gevlug toe hy agterkom die polisie agtervolg hulle,” het Ngubane gesê.
Die polisie het die motor mettertyd afgetrek en gassilinders daarin gevind.
Die polisie het die Mercedes Benz ook agternagesit terwyl dié met die N4 langs gejaag het, het Ngubane gesê.
Die insittendes het iets uit die venster gegooi voordat die motor van die pad af beweeg en teen ‘n heining gebots het.
Volgens Ngubane het die drie mans uit die motor geklim en te voet gevlug.
Die voorwerpe wat uit die venster gegooi is, was plofstof-materiaal.
“Ondersoeke het ook onthul dat die Mercedes Benz in Akasia, Pretoria, gesteel is. Beslag is op beide motors gelê.”
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA