OR Tambo se petroltekort ondersoek
2009-08-06 13:20
Pretoria – ‘n Taakspan is bymekaar geroep om vas te stel wat presies die brandstoftekort by die OR Tambo Internasionale Lughawe veroorsaak het.
“Die span sal ondersoek instel na die probleem en voorstel wat gedoen kan word om soortgelyke probleme in die toekoms te verhoed,” het Dipuo Peters, minister energie, Donderdag in Pretoria gesê.
OR Tambo se algemene bestuurder, Chris Hlekane, het gesê hulle behoort teen die einde van volgende week weer genoeg brandstof te hê.
“Ons het genoeg brandstof vir twee dae, maar die situasie sal verbeter soos die week aangaan.”
Die mediakonferensie kom nadat Peters, die oliemaatskappye en die Lughawensmaatskappy (Acsa) vergader het oor wat die brandstoftekort veroorsaak het.
Peters het gesê die taakspan sal weekliks vergader en op ‘n maandelikse basis aan haar verslag doen.
Dinsdag het Acsa se woordvoerder, Solomon Makgale, gesê lugrederye by dié lughawe is gevra om hul brandstofgebruik met 30% te verminder.
– Sapa