OB se seun in ongeluk met staatsvoertuig
2012-02-02 14:55
Kaapstad – Die seun van die openbare beskermer, Thuli Madonsela, het ‘n ongeluk met haar staatsvoertuig in Pretoria gemaak, het haar kantoor Donderdag gesê.
Hy het Woensdag in die vroeë oggendure teen ‘n huis se muur gebots, maar hy het nie ernstige beserings opgedoen nie, het woordvoerder, Kgalalelo Masibi, gesê.
“Die openbare beskermer was nie ten tyde van die ongeluk in die voertuig nie. Sy was by die huis en het geslaap nadat sy die vorige aand ‘n amptelike funksie in Sandton, Johannesburg bygewoon het.”
Masibi het gesê die seun, wat 'n geldige rybewys het, het die ongeluk onmiddellik by die Garsfontein-polisiestasie aangemeld.
Madonsela het gesê sy sal toelaat dat die wet sy gang gaan.
“Ek sal myself aan interne prosesse oorgee oor die gebruik van staatsvoertuie ingevolge die terme en voorwaardes van my indiensneming.
“Ek het reeds kontak gemaak met die eienaars van die eiendom en ooreengekom om hulle vir die skade te vergoed,” het sy gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA