OB sê nee vir Sanef se versoek
2011-12-21 09:00
Kaapstad. – Die openbare beskermer (OB), adv. Thuli Madonsela, het ’n versoek van die Suid-Afrikaanse Nasionale Redakteursforum (Sanef) van die hand gewys om die staat se argumente ter ondersteuning van die Wetsontwerp op die Beskerming van Staatsinligting te ondersoek.
Madonsela se kantoor het gesê die OB wil haar doelbewus distansieer van die burgerregte-veldtog teen die omstrede wetsontwerp, om te verhinder dat haar kantoor onder politieke verdenking en aanvalle kom.
“In ’n poging om haar kantoor uit te hou uit wat skynbaar ’n onnodige politieke storm is, het die OB besluit om haar skakeling met die parlement te skei van dié van die burgerlike gemeenskap, waaronder verteenwoordigers van die media,” lui ’n verklaring van Madonsela se kantoor. Madonsela self sê in ’n verklaring dat sy besluit het om die burgerlike gemeenskapsentiteite wat haar genader het vir bystand in die verband te vra om onmiddellik sonder haar met die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) te skakel.
Sanef het Madonsela gevra om aannames van die ANC te ondersoek dat geen land ter wêreld ’n klousule van openbare belang in amptelike geheimhoudingswetgewing het nie en dat diegene wat só ’n klousule voorstel, buitelandse agente is.
Sanef wou ook hê sy moet ondersoek instel daarna of ’n uitlating deur die minister van staatsveiligheid, Siyabonga Cwele, dat diegene wat teen die wetsontwerp gekant is, deur buitelandse spioene gefinansier word, met die beskerming van parlementêre privilegie gemaak is en of dit inderdaad in die parlement gemaak is.
Madonsela het voor Sanef se versoek reeds onder skoot gekom van die ANC se hoofsweep, Mathole Motshekga, omdat sy vir die speaker, Max Sisulu, geskryf en aangedui het dat verskeie organisasies haar al genader het om hul kommer oor die wetsontwerp uit te spreek.
Motshekga het haar daarvan beskuldig dat sy haar by die parlement se werk inmeng.
Die wetsontwerp is op 22 November deur die parlement goedgekeur en is sedertdien na ’n ad hoc-komitee van die NRP vir oorweging verwys.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Volksblad