OB oorhandig klagtes oor inligtingswet
2011-11-22 16:36
Johannesburg – Die Openbare Beskermer (OB), adv. Thuli Madonsela, het Dinsdag 'n opsomming van die hoofklagtes wat haar kantoor oor die omstrede inligtingswet ontvang het, na die speaker van die Parlement gestuur.
Daar is niks anders wat sy tans aangaande die wetsontwerp kan doen nie, het Madonsela Dinsdag in 'n onderhoud met Talk Radio 702 gesê.
"Ongelukkig is daar nie veel wat ek kan doen nie want my jurisdiksie is wanadministrasie...en hier praat ons van (die wet wat deur die Parlement aanvaar is)," het sy gesê.
Die Nasionale Vergadering het die Wetsontwerp op die Beskerming van Staatsinligting Dinsdag aanvaar.
229 LP's het ten gunste van die wetsontwerp gestem, 107 LP's het daarteen gestem en 2 LP's het nie gestem nie.
Die OB het klagtes van die Nasionale Persklub, die Instituut vir aanspreeklikheid in Suidelike Afrika, die Right2Know-veldtog, die Joodse raad van afgevaardiges en Talk Radio702-omroeper John Robbie ontvang.
Madonsela het gesê sy voel die regering het 'n geldige argument in terme van die beskerming van staatsekuriteit.
"...Maar op dieselfde wyse behoort demokrasie aan ons almal en speel elkeen 'n verskillende rol om demokrasie toe te pas."
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA