OB bekyk stellings oor muilband-wet
2011-12-14 07:30
Johannesburg – Adv. Thuli Madonsela, die openbare beskermer (OB), gaan stellings ondersoek wat gemaak is om die Wetsontwerp op die Beskerming van Inligting deur die parlement te stoomroller.
Dit is een van die uitkomste van ’n ontmoeting gister tussen Madonsela en die Suid-Afrikaanse Nasionale Redakteursforum (Sanef).
Madonsela het gesê ’n deurlopende kwelling wat sy van verskeie instansies oor die wetsontwerp ontvang het, is dat dit nie ’n verweer van openbare belang insluit nie.
Sy gaan ook op versoek van die redakteurs ondersoek instel of die bewering waar is dat soortgelyke wetgewing in ander lande ook nie so ’n verweer bevat nie.
Dié bewering het verskyn in advertensies van die regering se inligtingsdiens wat in verskeie koerante verskyn het en is daarna deur talle mense herhaal. As dit nie waar is nie, wil Madonsela vasstel of die fout in goeie trou begaan is of nie.
Madonsela het gesê die wetgewing kan dit ook vir instansies soos haar kantoor en die ouditeur-generaal moeiliker maak om hul werk te doen.
Hulle maak dikwels staat op inligting wat hulle kry van onthullers, wat tans deur wetgewing beskerm word. As die inligting wat die onthullers wil verskaf egter as vertroulik geklassifiseer is, sal dit die proses belemmer.
Haar kantoor het ook versoeke gekry om huidige ondersoeke te bespoedig omdat onthullers bang is hulle kan ingevolge die voorgestelde wetgewing vervolg word.
Mondli Makhanya, Sanef se voorsitter, het bevestig hulle gaan ’n geskrewe voorlegging aan die OB doen. Hy het ook gesê Sanef het reeds regsraad ingewin oor ’n moontlike saak in die konstitusionele hof as ander pogings om die wetsontwerp te stuit sou misluk.
Makhanya het egter gesê die demokratiese proses moet vertrou word. Toe hulle vir die eerste keer met die betrokke parlementêre komitee oor die saak gepraat het, het hulle te doen gekry met ’n baie koppige ANC, wat gedink het hul wetsontwerp kom uit die hemel.
Die daaropvolgende 18 maande het hulle aanhou praat en in dié tyd is meer as 120 wysigings aangebring, wat die wetsontwerp heelwat verbeter het. Hy dink nie die volgende stap, wanneer die wetsontwerp na die Nasionale Raad van Provinsies toe gaan, moet net as ’n rubberstempel beskou word nie.
Oor kritiek van die ANC-hoofsweep, Mathole Motshekga, dat die OB haar nie in parlementêre sake moet inmeng nie, het Madonsela gesê sy vergader binnekort met hom om die saak te bespreek.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld