OB: President moet optree teen minister
2011-07-14 15:53
Kaapstad – Adv. Thuli Madonsela, Openbare Beskermer, het in haar bevinding oor die manier waarop huurkontrakte vir polisie-geboue in Durban en Pretoria onderteken is, gesê pres. Jacob Zuma moet optree teen Gwen Mahlangu-Nkabinde, minister van openbare werke.
Madonsela het gesê Mahlangu-Nkabinde moet aan die parlement verslag doen oor die huurkontrakte, en het gesê dat dít binne 60 dae gedoen moet word.
Madonsela het in haar verslag getiteld:"Against the Rules Too" bevind dat die polisie nie vir die geboue begroot het nie, en dat dít op wanadministrasie neerkom.
Sy het gesê albei geboue is teen baie meer as die markwaarde verhuur. Sy het bevind dat die markwaarde vir die huur van die gebou R40 per m² was, maar dat die polisie R125.30 per m² betaal het.
Madonsela het bevind dat die omstrede sakeman Roux Shabangu die huurooreenkomste onderteken het kort voor die polisie die geboue identifiseer het.
Sy het gesê die ooreenkomste tussen die Middestad-gebou in Pretoria en die Transnet-gebou in Durban is dat die polisie albei geboue identifiseer het.
Die huurkontrakte beloop gesamentlik R1,78 miljard oor 'n tydperk van 10 jaar.
Madonsela het in Februarie vanjaar haar eerste amptelike verslag, getiteld "Against the Rules", oor polisiehuurkontrakte vrygestel. Dié verslag het gehandel oor 'n huurkontrak ter waarde van R500 miljoen vir nuwe polisie-geboue in Pretoria, is vroeër berig.
Daar is ook bevind dat die huurooreenkoms nie koste-effektief is nie. Sy het gesê die ooreenkoms tussen die departement van openbare werke en Shabangu is ongeldig.
Madonsela het ook bevind dat die optrede van polisiebeamptes en dié van die departement van openbare werke "onwettig" was.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Nuus24