Nzimande steun nie jeugliga-optogte
2011-10-17 11:15
Johannesburg – Dr. Blade Nzimande, hoofsekretaris van die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party (SAKP) het 'n beroep op lede van die ANC-jeugliga gedoen om nie aan beplande optogte vir ekonomiese vryheid deel te neem nie, het The Sowetan Maandag berig.
Nzimande het gesê lede van die jeugliga moenie "aan enige optogte deelneem wat nie 'n verskil in hul lewens gaan maak nie".
"Moenie toelaat dat julle gebruik word deur mense met agendas wat nie in julle belang is nie," het Nzimande op die SAKP se 6de provinsiale kongres in noordelike KwaZulu-Natal gesê.
"Ons ondersteun nie optogte wat kwaadwillig is en die owerheid van die ANC en die regering ondermyn nie."
Die Ekonomiese Vryheid Jeug-massa-aksie – wat vir 27 en 28 Oktober beplan word – sal by die Kamer van Mynwese begin, beweeg tot by die Johannesburgse aandelebeurs en dan sal hulle 'n nagwaak hou by die Uniegebou in Pretoria.
Die liga sal ook 'n versoekskrif aan owerhede oorhandig. Hulle eis gratis onderwys, die onmiddellike afskaffing van arbeidsmakelaars, werksgeleenthede vir die jeug, beter behuising en sanitasie vir mense in informele nedersettings en toegang tot water.
Cosatu het verlede week gesê hy gaan by die jeugliga aansluit.
Mlondolozi Mkhize van die Jong Kommuniste-liga (JKL) het gesê lede van die JKL gaan nie aan die massa-aksie deelneem nie, omdat dit die ANC ondermyn.
Mkhize het gesê die optog is 'n "stryd deur [jeugliga-leier Julius] Malema om te wys hoe hy jongmense kan gebruik om die ANC en die regering te beledig".
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA