Nyda-personeel staak oor bonusse
2011-12-08 14:12
Johannesburg – 'n Groep lede van die nasionale jeugagentskap (Nyda) het begin staak en eis hoër bonusse, het The Times berig.
Volgens het die berig staak 296 werkers sedert Maandag nadat hulle geweier het om 'n prestasiebonus van 8,33% te aanvaar.
Hulle het die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) genader, wat beslis het dat die agentskap hulle teen 30 November 'n bonus van 18% moet betaal. Dié betalings is nie gemaak nie en werkers het begin staak.
Die agentskap is deur pres. Jacob Zuma gestig om jeugontwikkeling aan te spreek.
Khatu Ramukumba, finansiële hoof van Nyda, het gesê die agentskap se kontantvloei is nie gesond nie, en dus is bonusse nie teen 30 November betaal nie.
Hy het gesê die agentskap sal nou begin om die bonusse te betaal omdat die presidensie die kwartaallikse geld Woensdag in die agenskap se rekening betaal het.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA