Nuweland gaan dalk winkels en kantore kry
2010-11-23 08:00
Theuns van der Westhuizen
Die Burger
Kaapstad - Die Nuweland-rugbystadion kan moontlik oor ’n paar jaar hersoneer word tot ’n gebied vir gemengde gebruik, met ruimte vir winkels, kantore en wooneenhede.
Die Kaapse stadsraad en die WP-rugbyunie (WPRU) het al oor dié moontlikheid gepraat, maar niks is nog amptelik op die tafel nie.
Dave Hugo, 2010- tegniese direkteur van die raad, en Theuns Roodman, bestuurshoof van die WPRU, wou hulle Maandag ook nie oor die saak uitlaat nie.
Hulle het wel bevestig dat daar sowat ’n maand gelede gepraat is en dat hulle in die nuwe jaar sal voortgaan met ’n gesprek oor ’n moontlike skuif van die WPRU na die Kaapstad-stadion.
“Die gesprek is in ’n baie sensitiewe stadium en ons wil nie druk op enigeen uitoefen of valse verwagtinge skep nie,” het Hugo gesê.
“Baie moet nog gebeur voordat enige besluit geneem word. Die sleutelkwessie is natuurlik finansies en ons wil hê dit moet tot voordeel van albei wees.
“Die moontlikheid om die Nuweland-stadion te hersoneer is ook bespreek. Ek weet nog nie waarvoor nie, maar ek vermoed dat dit vir gemengde gebruik sal wees. In so ’n geval sal die stadiongebied herontwikkel kan word vir winkels, kantore, woonplekke en ander gebruike.
“Dit is egter ’n proses wat tot twee jaar kan duur, want dit moet met openbare deelname gepaard- gaan.” Die stadsraad kan ook nie vooraf beloof dat dit sonder meer gehersoneer sal word nie. “Ons sal egter probeer om waar moontlik die proses te bespoedig.”
Volgens Hugo is geen aansoek nog van die WPRU ontvang nie.
Roodman wou hom ook nie oor die saak uitlaat nie.
“Nee, ek het niks te sê nie. Niks. Niks nie. Hulle (die stadsraad) moet eers sekere goed doen. Ons sal seker in Januarie weer praat,” was al wat hy wou sê.
Intussen kan die WPRU se standpunt oor ’n skuif na die Kaapstad-stadion – as ’n ankerhuurder of as operateur – ook beïnvloed word wanneer hy op 29 November ’n nuwe bestuur kies.
Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger