Nuwe wette laat boere se hare rys
2011-02-03 10:00
Bloemfontein – Van die nuwe wette wat vanjaar op die landbou van toepassing is of aan’t kom is, laat die boere se hare rys en dreig om die plaaslewe handomkeer te verander.
Kragtens die nuwe Verbruikerswet kan ’n boer alles verloor as iemand siek word weens veemedisyne wat vir ’n bees ingespuit is, is aangevoer op Vrystaat Landbou (VL) se landboubestuursdag.
Dr. Kobus Laubscher, hoofbestuurder van Graan SA, het oor die nuwe Arbeidswet gesê dit is belangrik dat dit nie oorkom asof landbou teen sy arbeiders diskrimineer en hulle nie ’n beter lewe gun nie.
“Maar ek gaan vandag sê dit is juis as gevolg van onsensitiewe wetgewing en onredelike verpligtinge wat op die skouers van boere geplaas is, dat ’n natuurlike samehorigheidsgevoel wat op plase geheers het, onderbreek is. Ons is gepolariseer op plase.”
Die vrees is dat veral voorgestelde wysigingsaan die Arbeidsverhoudingewet dit vir werkgewers onmoontlik sou maak om kontrakwerkers vir kort tydperke op plase aan te stel.
Ernst Janovsky, hoof van Absa Agribesigheid, het gesê beleid moet ’n omgewing skep waarin die boer kan boer. Die grootste probleem is die voorgestelde Wet op Verblyfregsekerheid wat die arbeider die reg gee om kommersieel op ’n boer se grond te kan boer. “Dit is die een wat in die huidige stadium die grootste gevaar inhou en ons sal moet skop daarteen.”
Die grootste negatiewe implikasie van die Mededingingswet is dat dit inligting gaan kompakteer sodat deursigtigheid belemmer word. “As een meulenaar in ’n vergadering instap, moet die ander een uitstap. Skielik word daar nie meer inligting gedeel nie. Dit maak markte ondeursigtig en dan is dit makliker om dit te manipuleer as vroeër.”
Oor die nuwe Verbruikerswet het hy gesê: “Kêrels, laat iemand siek word omdat jy ’n bees met Terramycin gespuit het, daar is antibiotika in, en kyk wat gebeur met jou. As hulle dit kan terugwys na jou, is jy kniediep in die moeilikheid.”
Boere sal verantwoordelik moet optree en hul rekordhouding sal goed moet wees. Hulle sal presies moet weet wanneer en hoeveel die bees gespuit is en wanneer hy geslag is. “Die papierwerk sal moet wys jy is nie skuldig nie, want hierdie wet maak jou skuldig totdat jy kan bewys jy is nie skuldig nie.”
Janovsky sê die voorgestelde nuwe Kredietwet bepaal die bank mag nie die boer meer rente vra as die kapitaal wat hy geleen het nie. As die boer met R200 agterstallig is met sy rekening by die apteek, sal die bank nie R20 miljoen aan hom kan leen nie. Daar is 136 wette op die finansierder van toepassing en meer as 100 wat ’n impak om die boer gaan hê. Die boer moet sy finansiële bestuur regkry, want stelsels verander dramaties.
By toegang tot hulpbronne speel die nuwe groenskrif vir grondhervorming ’n rol. “As jy dit lees, word jy kwaad, want dit is aggressief geskryf. Maar as jy mooi dink oor hom, is hy nie negatief nie. Hy gee vir jou baie geleenthede om ’n paar goed te doen. Dit wat hy wel regkry, is om toegang tot grond te bied.”
Die mark sal hom met onteiening steeds laat geld. Daar is ook maniere om beperking op hoeveel grond ’n boer mag hê, te bestuur.
Volg Nuus24 op Twitter
- Volksblad